Geskryf deur Gert de Jager – 4de Julie, 2024

Cobus Coetzee en Maxie Kroeze het vanoggend (4de Julie, 2024) die Groenkloof Gemengde Pare Titel die tweede jaar in ‘n ry verower toe hul vir Jonty Rhodes en Laurette Pretorius geklop het!
Dit was ‘n baie winderige oggend, maar Jonty en Laurette het goed koers gehou en na ses koppe het hul met 8 skote teenoor 3 voorgeloop.
Net voor teetyd het die wenspan die wind uit die voorlopers se seile gehaal deur 4 skote in te oes om die telling 9 – 8 in hul guns te maak.
Cobus en Maxie het goed saamgespeel en na 12 van die 18 koppe was hul met vier skote voor gewees (13 – 9). Jonty en Laurette het daarna goed herstel en dit 12 – 14 gemaak met net 3 koppe oor om te speel!
Die 16e kop was beslissend gewees, want toe Jonty die witte wegskuif van die skootbal af, was hul een op! Cobus het egter met ‘n briljante trekskoot die wit net effe beweeg om nog ‘n skoot te kry wat dit 15 – 12 gemaak het. Dit was ‘n wedstryd wenner want as Jonty-hulle 1 skoot gekry het, sou dit 13 – 14 gewees het met nog 2 koppe oor.
Die eindtelling was 22 – 12, maar dit gee nie die volle prentjie nie. Die rede is dat die verloorspan op die 18e kop skoot gehou het. Omdat hul egter 12 – 17 agter was en dus 5 skote benodig het om gelyk te trek, het Jonty met ‘n gewigskoot iets probeer om skote te kry. Hy het die wit in die sloot gesit, maar 2 agterballe en verdere trekskote van Cobus het toe 5 skote vir die wenspan opgelewer!



Pingback: Congratulations to the Winners of our Mixed Pairs Club Competition for 2024 – Cobus Coetzee and Maxie Kroeze !! – Groenkloof Bowls Club